Voel jy vasgevang in ’n armoedesiklus? Sukkel jy om ‘n werk te kry en ‘n loopbaan te bou? Dit is die realiteit vir baie Suid-Afrikaners:

Ons visie is om hierdie armoedesiklus in en om Stellenbosch te help breek. Ons doen dit deur werksoekers se vaardighede te verbeter sodat hulle ’n werk kan kry wat kan lei tot ’n vaste inkomste, ’n loopbaan en ’n beter toekoms.
Ons glo dat deur die werksoeker met die toepaslike tegniese en lewensvaardighede toe te rus, ons hulle kan bemagtig om werksgeleenthede te vind en daarvan gebruik te maak. Dit doen ons soos volg:

  • Werksoekers wat nie die vereiste tegniese en lewensvaardighede het nie, lei ons op deur middel van geakkrediteerde kursusse. Opleiding behels:
    -’n lewenseienskappekomponent,
    -’n tegniesevaardigheidskomponent (sien die kursusse [AB] wat ons aanbied), en
    -’n besigheidsvaardighedekomponent.

  • Ons help hierdie pasopgeleide en ander kwalifiserende werksoekers om betekenisvolle werk te vind deur hulle bekend te stel aan ons netwerk van werkverskaffers wat gereeld ons werksoekers in diens neem. Die werksverskaffers kan sulke intreewerkers verder oplei deur vakmanskappe of indiensopleiding.

  • Ons fasiliteer die persoonlike transformasie van ons werksoekers deur hulle bewus te maak van hul eiewaarde en hoe om verantwoordelikheid vir hulself te aanvaar.

  • Ons rus ons werksoekers só toe om uit die armoedesiklus te breek.