Stellemploy ondersteun twee soorte werksoekers.
- Werksoekers wat die vereiste vaardighede het en direk in ‘n werk geplaas kan word.
- Werksoekers wat nie die vereiste vaardighede het nie en wat kwalifiseer vir ons gratis opleidingskursusse. Studente wat hul opleiding suksesvol by ons voltooi het, word gehelp om werk te kry.
Werksoekers wat OPLEIDING NODIG het
Die ervaring het ons geleer dat werksoekers met markverwante vaardighede feitlik onmiddellik werk kan kry. Ons werk is om seker te maak dat ons studente die beste geleenthede kry. Ons is deskundiges as dit kom by die lees van die arbeidsmark en bied dan dié kursusse aan wat jou die beste voorberei op die huidige behoeftes van die arbeidsmark. Die kursusse wat ons aanbied verander dus volgens die behoeftes van die mark. Verder belê ons in ons studente se persoonlike ontwikkeling deur te fokus op lewensvaardighede wat hul goeie werknemers sal maak.
Ons kortkursusse duur van 2 tot 8 weke (sien die volledige kursustabel). Een kursus, ons diplomavlak-sjefkursus, duur ‘n hele jaar.
Dit is vir ons belangrik da tons student hul opleiding voltooi, want dis die beste manier waarop ons hulle kan help. Ons spandeer dus tyd met ons studente om hulle te help om dié kursus te kies wat hul die beste sal pas. Ons besef dat die lewe moeilik kan wees en dat omstandighede kan verander, daarom stap ons ‘n pad met ons studente en help hulle op elke moontlike manier.
The quality of the training environment and the training content is evident in the following video, in which Chef Leta du Toit-October guides students in the Chef Assistant course.
PLASING van ons studente
Ons hoofdoel is om ons student te help om sinvolle werk te kry. ‘n Groot deel van ons werk behels die plasing van ons vakleerlinge in posisies by ons vennootwerkverskaffers in ons Stellemploy familienetwerk. Maar meer nog, ons belê in ons studente deur die verskillende vaardighede wat ons vir hulle aanleer. Ons bly ook graag in verbinding met ons studente nadat ons hulle gehelp het om werk te kry om seker te maak dat ons belegging in ons studente hulle wel gehelp het om sukses te behaal met hulle langtermynloopbane.
Ons volg ons studente op twee maniere op. Eerstens kontak ons hulle werkverskaffers om seker te maak dat hulle suksesvolle werkers is deur betroubaar te wees en nie net hul werk behou nie, maar ook suksesvolle loopbane bou. Tweedens hou ons daarvan om van ons studente te hoor sodat ons kan uitvind op watter manier ons bygedra het tot hulle sukses.
PLASING van gekwalifiseerde werksoekers
Baie van ons werksoekers het reeds die vereiste tegniese vaardighede en hoef nie ons kursusse by te woon nie. Ons kan onmiddellik begin om vir hulle werk te soek wanneer ons hulle na ons keuringsproses aanvaar. Wanneer ‘n werk by een van die werkverskaffers in ons Stellemploy familienetwerk beskikbaar raak, help ons die werksoeker om daarvoor aansoek te doen.
Oor die afgelope 20+ jaar was ons baie suksesvol en het reeds vir 4 525 mense (2019) werk gekry. Hieronder is ‘n grafiek wat wys hoe die aantal mense wat ons in werke geplaas het, al hoe meer geword het oor die jare.